Seleksie-prioriteite
Ekonomies belangrike eieskappe waarvoor geselekteer kan word, is die volgende:

     • Vrugbaarheid      • Wol • Vleiskwaliteit
     • Groei      • Siekteweerstand • Voeromsetting

Om vir al die genoemde einskappe gelyktydig te probeer selekteer sal onwys wees. Dit is dus voor die hand liggend om op die ekonomies belangrikste een of twee eienskappe te fokus.

By Vredebest het ons 36 jaar gelede al besef dat vrugbaarheid die belangrikste ekonomiese eienskap is waarvoor by die SA Vleismerino geteel kan word. Daar is ook besef dat vrugbaarheid laag oorerflik is en dat dit ‘n teler se hele leeftyd sou verg om beduidende vordering te maak. Gelukkig kon ons hierdie pad met ‘n groot mate van sukses loop soos in figuur 1 aangetoon word.

Figuur / Figure 1

Daar is aanvanklik hoofsaaklik net op aanteeltempo gefokus. Hoe minder eienskappe, hoe meer seleksie-intensiteit kan op ‘n spesifieke eienskap geplaas word. ‘n Seleksie-indeks van dr Helen Turner van Australië is gebruik om ooie vir vrugbaarheid te evalueer. In onlangse jare word BLUP teelwaardes gebruik. Die grafiek toon dat die fekunditeit oor 36 jaar met ongeveer 40 persentasiepunte gestyg het.

As maatstaf van aanteeltempo is lammers gebore per ooie gelam geneem in teenstelling met lammers gespeen. Die rede hiervoor is dat daar tussen lam en speen te veel nie-genetiese faktore ‘n rol speel wat die ooie se vrugbaarheidspotensiaal versluier bv. diefstal, ongediertes, siektes ens.

Soos die jare verloop het is algaande meer klem geplaas op groei, bouvorm en wol. Met die hedendaagse beskikbaarheid van BLUP-tegnologie is seleksie baie makliker en doeltreffender en behoort teelvordering aanmerklik te versnel.

Die onderstaande vyfster ramme word tans in die stoet gebruik

Die algehele vordering wat in die Vredebest-stoet in onlangse jare ten opsigte van ekonomiese eienskappe gemaak is, word in figuur 2 aangetoon.

Figuur / Figure 2

Ten opsigte van siekteweerstand en vleiskwaliteit is die ras hoog aangeskrewe. Gevolglik word nie daarvoor geselekteer nie. Wat eersgenoemde betref, was die stoet vir ongeveer drie dekades op besproeide kikoejoegras aangehou sonder noemenswaardige inwendige parasietprobleme – ‘n baie waardevolle eienskap.

Wat voeromsetting betref, is die SA Vleismerino bekend as ‘n baie doeltreffende omsetter van voer na vleis. Binne die ras is daar egter groot verskille. ‘n Voeromsettingsproef (sien foto) het getoon dat die doeltreffendheid kan verskil tussen 3.2kg en 8.4kg voer vir elke kilogram toename in liggaamsmassa. Ekonomiese realiteite sal telers dalk dwing om in die toekoms hiervoor te selekteer.

Samevatting:
Oor ‘n tydperk van 36 jaar is gepoog om ‘n winsgewender SA Vleismerino te teel. Dit is gedoen deur hoofsaaklik op vrugbaarheid te fokus. Ons beskou dit steeds as die belangrikste ekonomiese eienskap waarvoor geselekteer kan word, ten spyte van die feit dat vordering baie stadig is. Die lae oorerflikheid van hierdie eienskap bring mee dat dit ‘n lewenstaak is. Ons was bevoorreg om hierdie doel grootliks te kon verwesenlik.

Algaande het ons ook meer klem geplaas op die groeivermoë van lammers, sodat ‘n versnelde omsettempo in vleisproduksie verkry kon word. Sodoende word meer inkomste gegenereer.

Teeldiere is beskikbaar by verskeie veilings en op die plaas.


Enkelhokkies waarin die proeflammers gehou is.

 

© 2013  Vredebest SA Vleismerino Stoet